Ontevrede Onnie

Forum vir bekommerde SAOU-Lede

SAOU - PROBLEME

PROSEDURE

RELEVANTE DOKUMENTE

MISSIE:

Program van beginsels van die forum vir bekommerde lede van die SAOU

  1. Die forum vir bekommerde lede van die SAOU is gestig te midde van die heersende druk en onsekerheid wat vanweë die leierskap van die SAOU ontstaan het.

  2. ʼn Wesenlike getal SAOU-lede is sterk gekant teen die nuutste verwikkelinge en die onsekerheid wat bly bestaan ondanks herhaaldelike nuusbriewe en vergaderings met lede.

  3. Die kernbrandpunte bly onbeantwoord en dit het tot ʼn vertrouensbreuk onder SAOU-lede gelei.

  4. ʼn Noemenswaardige gedeelte van lede van die SAOU voel blootgestel, selfs geteiken – vandaar die stigting van hierdie forum.

  5. Dit het derhalwe nodig geword om ʼn voertuig te skep sodat hul kommer aangespreek kan word en om ook aan te dui dat die wantroue wat bestaan ʼn wesenlike wantroue is en dat die klagtes wat geopper word, nie in isolasie gesien en hanteer moet word nie maar deur middel van ʼn gesamentlike front.

  6. Hierdie forum word ondersteun deur talle skoolhoofde en onderwysers wat in departementele en beheerliggaamposte staan asook deur lede van Klub42 wat ʼn wesenlike gedeelte van die ledetal uitmaak. Klub42 het skriftelik bevestig dat hulle hul met die forum vereenselwig en dit ondersteun. Hulle het ook aangedui dat hulle vir die doeleindes van hierdie mandaat en raamwerk as ’t ware deel van die forum vorm.

  7. Opsommend stel die forum sy standpunt soos volg:

    1. Onderwys in Suid-Afrika is tans onseker, onvas en het inderdaad ʼn regressiewe stadium bereik waar kwaliteit besig is om te vervaag.

    2. Openbare skole ervaar toenemende druk van die staat waardeur openbare skole inderwaarheid verstaatlik word.

    3. Onderwysers wat hierdie allerbelangrike beroep beoefen, moet in die beste belang van die kind optree sodat leerlinge deur bekwame onderwysers met voldoende infrastruktuur en goeie samewerking met die skool se beheerliggaam gedien kan word.

  8. Die leierskap van die SAOU het hierdie doelstellings en vertrekpunte vervaag en die forum eis verantwoordelikheid daarvoor.

  9. Die forum meen dat die vertroue van SAOU-lede herstel moet word en dat hierdie vertroue by wyse van wettige metodes, wat dit ook al mag wees, verkry moet word.