Ontevrede Onnie

Forum vir bekommerde SAOU-Lede

MISSIE

PROSEDURE

RELEVANTE DOKUMENTE

SAOU-
PROBLEME:

Goeiedag mede SAOU lede.

Na aanleiding van die Forum vir Bekommerde SAOU Lede (Forum) se skrywe aan die SAOU bestuur gedateer 1 Junie 2018 waarin daar bepleit is vir die hou van 'n Spesiale Nasionale Kongres het die SAOU geantwoord op 4 Junie 2018.

Die SAOU bestuur weier om ʼn Spesiale Nasionale Kongres te roep en die Forum vir Bekommerde SAOU lede is uitgedaag om 15% van die lede se stemme te werf om die kongres af te dwing.

Hieronder volg 'n uiteensetting van die probleme binne die SAOU - alle relevante dokumente is beskikbaar elders op die webblad. Die Forum sal eersdaags reageer en u sal op hoogte gehou word.

As jare lange lojale en opbetaalde lede van die SAOU is ons baie ontsteld dat die eens trotse SAOU in hierdie negatiewe publisiteit verval het.Die berigte in die media wat op hierdie negatiwiteit dui, kan hier gelees word.

Ons wil die aantygings toets om die waarheid te vind en om die SAOU van homself te red.

Sien ook ander relevante dokumente elders op die webwerf.

Ons is ʼn geruime tyd al ontevrede met die SAOU se bestuur – in dié verband is die debakel rondom die OGOD-hofsaak in 2017, waar die SAOU aktief teen die wil en oortuiging van sy lede die applikant ondersteun het om godsdiens in skole te verbied, ʼn goeie vertrekpunt.

Die SAOU het dit gestel dat hulle namens ons litigeer, maar in hul hofstukke is dit gestel dat hulle die afskaffing van godsdiens in skole steun. Sien ook relevante dokumentere bewys elders op die webwerf.

Selfverryking van Chris Klopper en lede van die SAOU se Nasionale Uitvoerende Raad (NUK)
Na bewering verdien Chris Klopper (hoofsekretaris) ongeveer R4 000 000,00 (vier miljoen rand) as ʼn direkte inkomste uit hoofde van sy amp. Ongeveer R450 000,00 hiervan kom uit hoofde van sy amp as voorsitter van Medihelp se Raad van Trustees – ʼn amp waartoe hy deur SAOU-lede verkies is. Dit terwyl ons as lede minder as 10% daarvan per jaar verdien. Hy stel in nuusbriewe dat die inkomste wettig is. Dit is nie die punt nie. Die vraag is: “Is dit moreel regverdigbaar?” Ons as lede sê NEE – dit is selfverrykend en immoreel en dit het tot ʼn vertrouensbreuk met Chris Klopper gelei.

Die vakbond se geld word aan die amptenary spandeer en nie aan ʼn diens van eer en opheffing van onderwys in die algemeen nie. Die president van die SAOU, dr. Louis Swanepoel, se beweerde inkomste is nagenoeg R1 400 000,00 (– dit terwyl sy salaris as skoolhoof, wat hierby ingesluit is, slegs ongeveer R330 000,00 per jaar beloop. Die president se ander bronne van inkomste is met die medewete van Chris Klopper en die NUK aan hom toegestaan sonder die medewete van ons as lede; trouens, dit is van ons as lede weerhou.

Ondeursigtigheid wat bestuur se inkomste betref
Die doel van ʼn vakbond is om die kollektiewe mag van lede bymekaar te bring om die lot van sy lede in die algemeen te bevorder. Ons is van mening dat hierdie fundamentele vertrekpunt vernietig is deur die selfverryking van en geheimhouding deur die amptenary en verkose lede aan wie ons hierdie plig toevertrou het. Hulle het hul magsposisies misbruik om hulself te verryk. Die feit dat hulle antwoorde omseil en die punt maak dat hul vergoeding markverwant en wettig is, is irrelevant. Ons het vertroue in hulle verloor. Hulle het ons bedrieg en mislei.

Vertrouensbreek
Ons stel nie belang in die verweer dat die vergoeding “wettig” is nie. Ons is van mening dat ons nie meer die bestuur kan vertrou nie. Vanuit hierdie oogpunt dring ons aan dat die huidige bestuur se mandaat op ʼn spesiale Nasionale Kongres, soos waarvoor die grondwet van die SAOU voorsiening maak, getoets word.

Die hoofsekretaris en/of die president is by magte om ʼn spesiale Nasionale Kongres uit te roep. By gebreke daaraan kan óf drie provinsies óf 15% van die lede ʼn spesiale Nasionale Kongres afdwing. Die Forum vir Ontevrede SAOU-lede beywer hom dus om so ʼn spesiale Nasionale Kongres af te dwing en om in die lig van bogenoemde inligting ʼn mosie van wantroue in die bestuur op die kongres ter tafel te lê. Voorts beywer ons onsself om ʼn forensiese oudit af te dwing wat verskeie bewerings van finansiële en korporatiewe wanpraktyke moet ondersoek.

Die Forum is gestig om die SAOU te red.